top of page

Vanaf die stigting van hierdie gemeente was en is die Bybel die enigste, betroubare, genoegsame en ononderhandelbare norm vir leer en lewe. 

 

Verder meer is ons van oortuiging dat die Bybel ten diepste oor Jesus Christus gaan. Daarom is Hy en Hy alleen die hart van ons sterk en ononderhandelbare oortuigings Saam met C.H.Spurgeon sê ons: "I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, It is Jesus Christ!" Dit is dus Jesus Christus wat in die eerste plek hier gepreek word, want dit is Hy wat ons sekuriteit is, ons vreugde, ons hoop - ons alles!

 

Ons is evangelies - wat beteken dat ons glo in die noodsaak van wedergeboorte, bekering, heiligmaking, volharding. Hierdie verantwoordelikhede rus op alle mense - ook op gelowiges se kinders. Ons glo voorts dat evangelieverkondiging die krag van God is waardeur die Heilige Gees ons tot hierdie dinge in staat stel.

 

Ons is baptisties (LW dit is nie presies dieselfde as om te sê ons is Baptiste nie. Baptiste het histories sekere eiesoortige kenmerke, wat ons nie noodwendig deel nie) - wat beteken dat ons 'n hoë premie plaas op die plaaslike kerk as gemeenskap van ware gelowiges en die daarmee samehangende belydenisdoop. Hoewel ons van harte oortuig is dat dít die Bybelse waarheid is, het ons ontspanne en liefdevolle verhoudings met talle wat sterk voel oor die kinderdoop, dog wel ons dieperliggende reformatoriese waardes deel.

 

In die uitlewing van ons geloof hou ons in hierdie gemeente 3 gerigthede in balans. 

 

•  Na bo wil ons met Jesus Christus wandel en Hom in gees en waarheid aanbid. Ons wil as dit saam doen. Ons gee daarom uitermate om vir korporatiewe aanbidding. Ons is meer as ‘n preeksentrum. Ons korporatiewe byeenkomste is ‘n kardinaal belangrike en lewend-gewende manier om Christus te verhoog. Ons wil hê ons harte (emosies) en denke moet betrokke wees tydens ons aanbidding. Juis daarom jaag ons die volgende na: ywerige, God-gesentreerde sang, gebed (elke Sondagoggend voor die erediens). en getuienis (veral Sondagaande), sowel as Bybelse, Geesvervulde, God-verheerlikende prediking wat ook in die praktyk van elke dag ‘n verandering bring. 

•  Na binne wil ons mekaar liefhê, dien en opbou. Ons heg waarde aan verhoudings in ons lewe saam. Ons begeer om egte en praktiese maniere te vind om mekaar lief te hê om sodoende vriendskappe te bou en ons geloof te versterk. God word verheerlik as ons liefde vir mekaar oorvloedig is. Dit is juis daarom dat alle lidmate in kuddegroepe ingedeel is, en ons almal aanmoedig om in selgroepe betrokke te raak, waar werklike opbou kan plaasvind. Dit is by uitstek daar waar Efesiërs 4 waar word.

 

•  Na buite wil ons diensbaar wees, eerlik en opreg in hierdie wêreld leef, en die evangelie wyd en suiwer uitdra. Daarom is daar ook verskeie diensgroepe in die gemeente. Elkeen dra op  unieke wyse by tot die diensbaar wees na buite.

​

​

​

​

bottom of page